Monday, August 11, 2014

Juf. Hanli Geldenhuys

Sonskyn Spinasie-paai
Hanli Geldenhuys


(Houtbord op foto gemaak deur oud-Lochie Francois Theron 0825565450)
Daar is maar net 'n ding met 'n pie, 'n regte kafee-pie.  Ons almal ken die storie van die man wat volgens hom so lus was vir 'n Rennie, dat hy sommer 'n pie geëet het.

Een van my kosbaarste uiteet-herinneringe was in 'n klein kafeetjie met geruite plastiek tafeldoeke in Wellington toe my ouers my destyds vir die eerste keer by die koshuis afgelaai het.  Met 'n Big Jack-pie, mash en gravy was ek gereed om my nuwe lewe tegemoet te gaan.  Trooskos op sy beste.

Wat my laat dink – hoe dan  nou anders?  Die woord paai, volgens die HAT, beteken immers deur mooi woorde, beloftes, tegemoetkomings tevrede stel, probeer sus of in 'n bevredigende stemming bringTroos, met ander woorde.

Vandag nog bring 'n pie troos in ons huis.  'n Heerlike heilsame hoenderpastei met skilferkors, of 'n geurige skenkelpastei, of gisteraand se oorskiet maalvleis met 'n skepdegie bo-op.  Of dan hierdie sonskyn spinasie-paai – vrolik, mooi en maklik.  En as vleislose Maandae by jou huis net so swak aanvaar word soos by myne, voeg jy hoender of spek of wat ookal in jou kas is, by.   Paaikos, trooskos, huiskos.  Laat waai met paai!

Om hierdie sonskyn-paai te maak is baie eenvoudig.  Meng 500g meel, 90 ml olyfolie, 200 ml warm droë witwyn en 1 eetlepel sout saam in 'n menger.  Wanneer die deeg 'n bal vorm, draai dit toe in kleefplastiek en sit dit eenkant.  Meng nou 2 bossies gekookte, gekapte spinasie, 350 g ricotta kaas (ek is seker roomkaas sal ook werk), 1 eier en 100g gerasperde parmesaan kaas (as cheddar al is wat jy het, gebruik dit).  Geur met sout en peper.  Verdeel die deeg in twee en rol twee groot sirkels van ong. 30cm in deursnee uit.  Plaas die een deegsirkel op 'n bakplaat en sprinkel broodkrummels oor.  Sit 'n gedeelte van die vulsel in die middel en pak die res teen die rand van deeg in 'n sirkel.  Sprinkel parmesaankaas (of cheddar) oor.  Bedek met die tweede deegsirkel.  Druk die rante vas met 'n vurk.  Sit 'n klein bakkie in die middel van die pastei en druk liggies.  Prik met 'n vurk al om die rand van die bakkie.  Sny nou die buiterand in 2cm-snye met 'n skerp mes en draai elke sny effens.  Verwyder die bakkie.  Bak by 180 grade Celsius vir ongeveer 30 minute.  Bedien met 'n groen slaai.
 
Stap 1: Verdeel die deeg in twee en rol twee groot sirkels van ong. 30cm in deursnee uit.  Plaas die een deegsirkel op 'n bakplaat en sprinkel broodkrummels oor.

Stap 2: Sit 'n gedeelte van die vulsel in die middel en pak die res teen die rand van deeg in 'n sirkel.  Sprinkel parmesaankaas (of cheddar) oor






Stap 3: Bedek met die tweede deegsirkel.  Druk die rante vas met 'n vurk.  Sit 'n klein bakkie in die middel van die pastei en druk liggies.  Prik met 'n vurk al om die rand van die bakkie.

Stap 4: Sny nou die buiterand in 2cm-snye met 'n skerp mes en draai elke sny effens.  Verwyder die bakkie.  Bak by 180 grade Celsius vir ongeveer 30 minute.  Bedien met 'n groen slaai.



No comments:

Post a Comment